Missionale gemeentes
1 Begripsomskrywing: Die studiestuk werk met die term missionale gemeentes. ‘n Missionale gemeente is ‘n gestuurde gemeente, wat as God se gestuurdes daar werk waar God werk. Die term ‘missionale gemeente” dien as alternatief vir die term missionêre gemeentes.
a) Die term moet nie met die sg “emerging churches” verwar word wat ‘n vernuwingsbeweging is nie.
b) Die term verwys ook nie ‘n nuwe manier om oor kerkgroei te praat nie, of om die sg “attractional church” gedagte te bevorder nie. Dit gaan nie om die promosie van die plaaslike gemeente nie, alhoewel die plaaslike gemeente God se gestuurdes is, en geseën word waar hulle ander seën.
c) Die term moet ook nie verwar word met sosiale geregtigheid nie, alhoewel gemeenskapsbediening inherent deel is van wat ons onder missionale gemeentes verstaan.
Die verstaan van missionale gemeentes en die begrip Missio Dei gaan hand aan hand. God is ‘n sturende (missionêre) God. Die lewe van God is ’n proses van gestuurdheid: die Vader stuur die Seun, die Seun stuur die Heilige Gees. Die begrip, Missio Dei, of meer resent, Trinitatis Dei, verwys na ʼn missionêre verstaan van die drie-enige God en van Sy Sending na die wêreld. Dit behels ook die verstaan van die Goddelike Triniteit as ‘n intieme onderlinge gemeenskap wat wedersyds diensbaar en insluitend is, wat impliseer dat die lidmate soos die Hoof van die kerk is. Die kerk of geloofsgemeenskap is God se instrumente in Sy Sending, Sy gestuurdes na die wêreld. As God se gestuurdes werk ons daar waar God werk.
‘n Missionale teologie werk met ‘n holistiese verstaan van die kerk se roeping, naamlik om nie net met woorde nie, met Woord en brood, woord en daad, die evangelie te bring. Die missionale gemeente is sout vir die aarde en lig vir die wêreld op elke lewensterrein, en bevorder die belange van die koninkryk van God. Dit gaan dus oor die identiteit van die kerk maar ook oor die roeping van elke gelowige om dissipelmaker te wees daar waar hy of sy hom of haarself in die werk en speelplek bevind. Christus se opdrag in Matteus 28: 19-20 handel in die eerste plek nie oor die doop of oor enige ander saak nie, behalwe om dissipelmakers te wees, kortom, ‘n beweging van mense gedring deur hulle liefde vir Christus Jesus en deur hul gehoorsaamheid aan Hom die koninkryk realiseer. ‘n Missionale gemeente is beide uitreikend deur haar diensbaarheid in die samelewing en uitnodigend in die sin dat mense deur die gemeente se (Christus) styl van diensbaarheid na Hom getrek word.
2 ‘n Missionale perspektief
Missionêre kerk-wees beteken dat gemeentes ’n meer kritiese ingesteldheid onwikkel jeens hul omringende konteks, om sodoende as alternatiewe gemeenskap ’n uiters noodsaaklik profetiese roeping daarbinne te beoefen. Terselfdertyd word sending nie net gesien as die taak van enkelinge wat van tyd tot tyd in sendingaksies uitreik na ander plekke om siele te wen vir die koninkryk van God nie, maar as die taak en roeping van die hele gemeente wat op ’n deurlopende grondslag hulle missionêre roeping in en na die wêreld (ook in hul onmiddellike konteks) uitleef.
Sendingwerk behels nie meer net uitreikaksies van sendingorganisasies in die Eerste wêreld na ongekerstende volkere in die Derde wêreld nie, maar die taak van kerke en gemeentes (ook) in hul onmiddellike konteks. Dit sluit die interaksie/wisselwerking tussen Woord en brood in. Kortom: ’n skuif vanaf ’n sturende na ’n gestuurde kerk, ’n skuif vanaf ’n kultuurkerk na ’n kerk wat die omringende gemeenskap reflekteer met in ag neming van, en ’n kritiese posisie teenoor, die omringende kultuur.
’n Missionale gemeente sou ook as ’n gemeente met bepaalde styl getipeer kon word. ’n Gemeente wat die Woord van God kan waarmaak en die konteks waarbinne ’n gemeente hulleself bevind kan lees. Met ander woorde, ’n Skrifgetroue kerk wat die mens van vandag aanspreek binne sy konteks. Dit is ten eerste oor die karakter van die kerk.
“Being missionary and being a “sent” community – a body of people sent on a mission – is not first about the church’s outward-moving actions – it is about the character of its own life in the process. This happens not when a church leaves its geographic location. Rather it happens when it takes leave of cultural loyalties alien to the gospel. This must be the prior disposition if geographic leaving is to be genuinely missionary.” (Darrell L Guder: Missional Church).
‘n Missionale gemeente is ook al beskryf as gemeentes wat wegbeweeg van programme na prosesse, van besluite na dissipelmaking, van professioneel na passievol,van uniformiteit na diversiteit.
As alternatiewe gemeenskap kan die missionale gemeente ʼn kragtige getuie wees wanneer hy in kontras met die leefstyl van die dominante gemeenskap rondom hulle optree – byvoorbeeld ten opsigte van materialisme, korrupsie, wetteloosheid en liefdeloosheid. Die missionale gemeente word voortdurend gevorm deur die evangelie om sodoende ʼn lewende en geloofwaardige bewys en bevestiging van sy eie aansprake, beloftes en uitnodigings te word terwyl daar geïdentifiseer word met die wêreld ver en naby hulle as ʼn teken van die Koninkryk wat kom. Die missionale gemeente volg in die voetspore van Christus, wat deur Sy lewe en bediening die barmhartigheid van die Vader omgesit het in brood, genesing, redding uit gevaar, vergifnis en versoening met God. Die gemeente gee dus ook met haar dienswerk uitdrukking aan die barmhartige hulpvaardigheid van God.
3 Missionêre/missionale dimensie en intensie
Wanneer daar oor die verantwoordelikheid van missionale gemeentes gepraat word, is dit nodig om tussen ‘n missionêre dimensie en ‘n missionêre intensie te onderskei. As die kerk dáár is vir die wêreld, as die kerk in alles wat hy doen die liefde van die Here wil uitstraal, spreek dit vanself dat élke aksie van die kerk ‘n missionêre dimensie moet hê. Of eredienste gehou word of kategese bedryf word, of pastorale sorg ter sprake is of ‘n kerkbouprogram, of daar kermis gehou word of oor die jaarlikse begroting besluit moet word, telkens moet die vraag gevra word: dien dit ons getuienis? Lok dit mense na Christus – of stoot dit af?
Die kerk het nog meer as dit nodig: ‘n missionêre intensie. In die program van die gemeente moet voortdurend plek gemaak word vir spesifieke getuienis- en diensaksies en projekte. Die evangelie-liefde van die Here moet verkondig word en ook gedemonstreer word. Daarvoor is planne en strukture nodig. Hierdie styl vra om ’n bewuste keuse van ’n gemeente om te beweeg van selfonderhoudend na missionêr. Dit vra van ’n gemeente om nie haar eie doel in sigself te wees nie, maar ’n middel tot ’n doel, om haar eie sisteem prys te gee ten einde dit te behou.
Die presiese implikasie van hierdie uitwaartse beweging sal uiteraard verskil van gemeente tot gemeente. Dit alles bring mee dat elke gemeente (en elke lidmaat) eerlik voor die spieël van die Here sal moet gaan staan en vra: watter dinge verhoed ons om ons taak behoorlik na te kom? Dra die gemeentelike strukture ons roeping om missionale gemeente te wees, of pootjie ons tradisionele strukture ons? Is die gemeente hoofsaaklik na binne gerig, bo alles op hul eie oorlewing ingestel?
Lewe dié gemeente na buite, na die wêreld, waarheen die Here hul geroep het om as Sy getuies op te tree? Kortom, soos Malan Nel dit vra: “Waarvoor is die gemeente hier? Wie sal die gemeente mis as hulle ophou bestaan?” Nie net die bediening van die kerk nie, maar ook die “being” (die wees van die kerk) is belangrik.
4 Leierskap en die missionale kerk
Leierskap is vir Malan van kardinale belang in die lewe van die missionale gemeente. Hy beklemtoon egter ʼn dimensie wat belangrik is vir die styl waarmee ons die saak benader. Hy noem dit die stuur (kubernesis) van ‘n boot wat nie jou eie is nie, met ‘n vrag wat jy nie besit nie, na ʼn bestemming wat deur die Eienaar van die vrag bepaal word. Hierdie is ʼn beeld wat aansluit by Paulus in sy briewe. Missionale gemeentes verstaan die relatiewe en relevante waarde van leierskap, administrasie en bestuur. Uiteindelik staan al die bedieninge van die gemeente in diens van die kommunikasie van die evangelie van die koninkryk van God.
‘n Ander beeld is om die gemeente te sien as ‘n trein, wat sy doel vervul. Die stuur (kubernesis) van die trein is die wiele van die trein. Hulle neem die impak of “hammering” en in die ergste scenario is ongelukkig ook die remme wat die proses vertraag of in die wiele ry. Dit beteken dat gemeentes se rol nie uitgedien is in die koms van God se koninkryk na die wêreld nie, maar uitdrukking van God se liefde vir die wêreld.
Die gemeente is God se opsporingstasies om die gebrokenes in hierdie wêreld te soek en te laat vind- getroue getuies van God se genade in Christus deur die werking van Sy Heilige Gees. Missionale leierskap is gebou op bemagtiging, deelname en spanne, waar daar oop sisteme is wat nuwe toetredes verwelkom. Leierskap moet ook by die veranderende omstandighede kan aanpas. Daarby is dit vanselfsprekend dat die gemeentelike leier ‘n persoon van integriteit en geloofsvolwassenheid moet wees.
5 Missionêre/missionale waardes
In hierdie paragraaf word net kortliks verwys na die hoofstuk van Nelus Niemandt oor die saak. Om ʼn gemeente te begelei van ‘n instandhoudende kerk na ‘n missionale kerk vra ‘n holistiese benadering. Dit werk met die begrip dat die kerk juis daar is vir die vreemdelinge en mense wat nie deel van die kerk is nie. Hiermee word nie bedoel dat die bedieninge in die kerk verwaarloos word nie. Die bedieninge in die kerk mag egter nie net dien om die “struktuur” te dien nie, maar die koms van God se koninkryk in hierdie wêreld.
Die onderstaande missionale waardes word deur Niemandt as rigtinggewend vir die missionale gemeentes genoem. Die bediening van gebed, die bediening van die evangelie van God se verlossing vir alle mense deur woord en daad, sowel as die bewaring en bewerking van die skepping tot eer van God en almal wat in die skepping woon, is deel van die roeping van die hele gemeente, maar ook van elke gemeentelid. Insiggewend dat hy vermeld dat die gemeente die leiers se agenda bepaal en nie andersom nie.
Missionale waardes sluit die volgende in:
- Lewe as ‘n geloofsgemeenskap wat onderlinge saamwees hoog ag. (Die uitbou van kleingroepe).
- Oop en plat leierskapsstrukture.
- ‘n Sin vir avontuur en bereidheid om risikos te neem. (teenoor die handhawing van dit wat werk).
- Aanbidding wat klem lê op ervaring, deelname en die kunste. Met aanbidding moet ons ook verstaan dat ‘n missionale gemeente alles wat sy aanpak in biddende afhanklikheid van die Sturende God sal doen.
- ‘n Sin vir geregtigheid.
- Deernis met mense in nood (Gemeenskapsbediening).
- Waardering vir diversiteit met behoud van klem op eensgesindheid.
Uiteindelik, elkeen ‘n sendeling!
6 Missionale gemeente in ‘n postmoderne konteks
Cas Wepener (aangehaalde werk) wys daarop dat die kerk haar in ‘n nuwe era bevind. In samelewings wat as modern of postmodern getipeer kan word, het die kerk haar vanselfsprekende posisie verloor. Die vraag is watter tipe kerk benodig word in ‘n post-moderne kultuur?
Die sg “kerk in ‘n postmoderne konteks” heg groot waarde aan holisme en bediening aan die hele persoon in sy totale konteks, maw gee aandag aan al die dimensies van menswees, nie net die mens se “siel” nie. Diversiteit en multikulturalisme is nie vreemde begrippe vir so ‘n kerk nie. Verhoudings is baie belangrik en die kerk funksioneer nie in “geestelike ghettos” nie, maar heg waarde aan verhoudings met ander kerke. Dit sou beteken dat bedieninge nie gedupliseer word nie, maar hande gevat word twv God se koninkryk. Wysheid om die onmiddellike konteks aan te spreek en te bedien eerder as intellektuele kennis is belangrik vir die bediening in die sg “postmoderne konteks.”
Sendingwerk behels nie meer net uitreikaksies van Sendingorganisasies in die Eerste wêreld na ongekerstende volkere in die Derde wêreld nie, maar die taak van kerke en gemeentes (ook) in hul onmiddellike konteks. Kortom: ’n skuif vanaf ’n sturende na ’n gestuurde kerk. Ook wat die kerke/gemeentes se onderlinge verbondenheid betref het daar ‘n skuif gekom. Gemeentes reik na mekaar uit as vennote of “partners”. Die “partnership” gedeelte behels dat ‘n sisteembenadering gevolg sal word waarin netwerke van gemeentes gevorm word om saam te werk aan hul missionêre opdrag. Dat gemeentes hande sal vat op hierdie pad deur van mekaar te leer, van oorwinnings en van foute. Maw ‘n benadering weg van “ons weet” na een van “ons leer”.
Hoe die vennootskapsgedagte uitgewerk kan word is deel van die proses in KZN waar gemeentes uiteindelik in gesprek met mekaar by mekaar kan leer en mekaar kan stimuleer en bemoedig deur die onderlinge koinonia en leer by mekaar. Hierdie is deel van ‘n ontvouende proses in KZN.
‘n Studiestuk (Nuwe wyn) wat by die vorige Sinodesitting van Natal se kerk uitgedeel het daag die kerk in KZN so uit: “ Ons is nou hier, God stuur ons. Ons is Sy kerk, Sy familie. Ons wil mekaar bystaan om met Woord en daad Christus sigbaar te maak. Ons wil nie meer alleen loop nie, maar ons wil saam met ander kerke, veral ons uitgebreide familie, saamwerk aan een Christelike getuienis. Ons is betrokke by die uitdagings van armoede, MIV Vigs en misdaad. Ons wil die Here se koninkryk dien, wat groter is as ons kerk. Ons kan dit nie meer konfronterend, meerderwaardig, sonder verhoudinge doen nie.” Kom ons begin dit al meer doen!
Opsteller: dr Mike Heaney in samewerking met Ds Gawie van Jaarsveld, Dr Botha van Aarde en Ds Ben van Dyk
Bronnelys:
Christianity Today. December 2008.
Hancke Frans. Die impak van die plaaslike missionêre gemeente. Ongepubliseerd.
Keller Tim. The Missional Church. Junie 2001.
Nel Malan. Congregational analysis: A theological and ministerial approach. HTS teologiese studies. November 2009.
Niemandt Nelus. Nuwe drome vir nuwe werklikhede. 2007.
Nuwe wyn in nuwe sakke. Studiestuk van KZN Sinode
Wepener Cas. Ongepubliseerde Buvton studiestuk.